Thursday, October 29, 2009
The Dungeon Within
Ek wens ek kon my vingers soos ysterkloue in die grond slaan:
.. hard, koud en gewetenloos.
En die growwe tekstuur van die sandkorrels in my handpalms te voel terwyl my gebalde vuiste dit gevange neem en daarna eenkant toe strooi en loslaat in die asem van die wind.
Ek grou al hoe dieper. Die tekstuur van die sand word klam en begin onder my naels vassit. Die reuk van vars grond penetreer my sintuie en soos ‘n hond wat bloed ruik grawe ek met hernude ywer.
My hande brand soos vuur en my vingerpunte is rooi van die wrywing. Ek grawe voor my agter my rondom my. Ek wil n gat grawe so diep en groot soos die een in my wat nie gevul kan word nie.
Ek wil die hele alfabet hier begrawe, want letters spel jou naam. Letters vorm woorde, en woorde het hulle magic vir my verloor. Want woorde voltooi die sinne wat jy nie kon nie. Woorde trek hulleself uit sodat jou leuens naak voor my staan. Sinne trek los soos linte wat eens op n tyd wapperende strikke in die wind was.
My hand brand. Ek kyk af, my handpalm bewend na bo gedraai. Die bloed sypel stadig deur die grond wat aan my hand vaskleef soos ou gedagtes wat nie wil laat los nie. Ek het my hand gesny teen n stuk versplinterde glas wat in die grond begrawe was.
Ek tel die glas op terwyl die bloed n amper swart moddertraan teen my arm laat afloop. Ek gaan sit op die grond, my nou loodswaar arms kruis rustend op my opgetrekte kniee. Daar is n skemerlig om my .. ek verstaan nie want dit is tog nog vroeg.
Totdat ek stadig om my rondkyk en besef .. ek het die gat te diep om my gegrawe en sit nou in die kern daarvan. Ek sit kruisbeen op die bodem van n oop graf. Die skemerlig het my skaduwee ingesluk. Hier onder is ek niks meer as die maskerlose kontras tussen die lig en donker op my gesig nie.
Ek kyk af na die stuk glas in my hand.
Agter my glasruit .. vir nou is ek meer blind as jy ..
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment