Sunday, January 10, 2010

Homecoming 17: Her ghost in the fog

Ek is hier ..

Hmm. Waar is hier? Ek weet nie meer nie.

Want ek het nog altyd in my Spooklaghuis gewoon, met hart en siel. En nou .. is ek soos die Spook van Plot 13. Wie sou kon dink?

rustelose swerwersiel
beweeg ek geluidloos deur die gange
van gister se onthou

met loodswaar arms
en geboë hoof
soek ek nimmereindigend na jou

Dis nuwejaar. Maande het verloop in wat voel soos netnou. Tyd hardloop op n treadmill, want dit vlieg op pad na nêrens.

Ek onthou nog die koue kus van winter. Maar lente en somer het soos herfsblare amper ongesiens verby my voete gewaai.


Dis vroegoggend. Ek strompel toegedraai in die newels van my slaap na die voorstoep. Die son was voor my wakker. Maar hier in my woud vertoef die skemer so bietjie langer as gewoonlik en beskerm die ruig blare-dak my teen die vroegoggend kielie-vingers van die son.

Asjas is besig om n duisendpoot te ontmasker wat doodspeel op die grond. Ek trek my longe vol van die vars lug, aromaties gegeur met al die plantegroei in die omgewing.

Alles om my is mooi groen. En daar is n kaleidoskoop van kleur met al die plante wat besig is om te blom. Baie van die blommetjies slaap nog en le so bietjie in terwyl hulle vir die hemelse flits wag om op hulle te skyn.

Ek luister na die voëls wat in hul chorus amper-bly klink om my te sien. Ek probeer erkennend glimlag, maar my oë en mondhoeke praat nie dieselfde taal nie.

Asjas wag geduldig vir die duisendpoot om weer te begin loop. Ek beny skielik die kat vir sy geduld. Geloof. Hoop.

Ek wil nie dadelik ingaan nie, al verlang ek na n beker warm koffie. My vaskyk in die spieels daarbinne het my n paar goed laat besef. Maar dis realiteite waarin ek nie nou dadelik wil vaskyk nie.

Dalk sit ek nog so n bietjie langer op die stoep ..

1 comment: